Geskiedenis.
Die Hoërskool Rustenburg het sy wortels op 31 Januarie 1922 gevestig met mnr. J. J. Nel as die eerste skoolhoof. Die Hoёrskool Rustenburg het begin met 5 onderwyserss en teen die einde van 1922 was die Rustie-familie nόg 5 onnies ryker. Van dag een af is die Hoërskool Rustenburg ‘n dubbelmedium skool wat die plattelandse gemeenskap bedien.
In 1922 word ʼn ou pastorie in Pleinstraat ingerig as die koshuis en staan as die “Jongenskoshuis” bekend. Tydens 1923 is Joubert-tehuis vir dogters geopen op die hoek van Plein- en Kerkstraat wat as ‘n koshuis gedien het tot 1952 vόόr Huis Meisies opgerig is. ʼn Seunskoshuis word in 1927 opgerig waar Oom Paul skool vandag is en het as Residensiekoshuis bekend gestaan.
Mnr. Nel het egter ʼn visie vir groter en beter skoolgeboue gehad en op 11 Augustus 1939 word die hoeksteen van die huidige gebou gelê. Met die aanvang van die 1940-skooljaar kon 424 leerlinge en 18 onderwysers hul nuwe skool betrek. Met mnr. Nel se aftrede op 14 Desember 1948 (na 26 jaar diens) het die skool reeds 521 leerlinge en 26 onderwysers gehad.
Op 18 Januarie 1948 het mnr. H. C. Bredell se ampstermyn as hoof begin, wat 6 jaar sou duur. Gedurende dié tydperk groei die skool sterk en ʼn nuwe meisieskoshuis is op 24 Maart 1954 ingewy. Toe dr. M. Heyns in 1955 as hoof aangestel is, was die leerlingtal alreeds 919 met 38 onderwysers. In hierdie tydperk het daar grootskaalse mynontwikkelings plaasgevind en die skool se getalle het vermeerder en in 1959 was die Rustenburg Hoërskool die grootste hoërskool in Suidelik Afrika met 1453 leerlinge.
In 1960 het die Hoërskool Bergsig afgestig met 447 leerlinge. In 1961 word dr. Heyns bevorder en neem mnr. C. Fourie oor as hoof tot 1970, mnr. J. Storm neem waar in 1971 en in 1972 word mnr. J. W. Swanepoel hoof, tot 1974. Gedurende hierdie tyd word baie veranderinge by die skool aangebring.
Vanaf 1973 het die onderwysdepartement ʼn kennisgewing uitgereik dat die skool voortaan net Afrikaans as onderrigtaal mag gebruik en Engelssprekende leerlinge is na die Handelskool wat vandag as Grenville High School bekend staan, oorgeplaas.
Vanaf Mei 1975 was mnr. J. D. Storm die hoof tot 1984 waarna mnr. C.D. Peyper as sewende hoof van die Hoërskool Rustenburg die mantel oorgeneem het. Hy was aan die stuur van sake tot Augustus 1988, toe mnr. H. H. Venter oorgeneem het. Daar was 1145 leerlinge en 40 personeellede. Mnr. Johan Smit het in 2004 die leisels oorgeneem en die leerlingtal het op 1331 met 55 personeellede gestaan. In 2017 het mnr. Danie Greyling as waarnemende hoof gedien waarna mnr. J.H. Pieterse in November 2019 die leisels as nuwe skoolhoof oorgeneem het, met ‘n personeelkorps van 96 lede.
Die skool is 100 jaar oud!
Skoollied
Teen die hange van Magalies
met sy fiere Eeufeestop
deftig rys die Rustenburgse Hoërskool
teen die bloue hemel op;
wie se leuse, hoog en edel,
elke leerling moet bewaar:
Ken jouself in woord en wandel,
wees getrou waar jy ook vaar. (2x)
Ken jouself by les en studie,
op kultuur en sportgebied
Ken jouself in die vervulling
van jou naasteliefd’ en plig
Eer en roem moet jy versamel
vir jou skool en dorp alom;nie alleen in jongelingsjare
maar tot gryse ouderdom. (2x)
Deur jou skool is jy ontwikkel
Ja, gestaal ook vir die taak
wat jy eendag so sorgvuldig
sal moet uitvoer hier op aard.
Dink terug aan lang vervloë
blye jeugherinnerings,
neem die grootste plek nog altyd,
jy ons Skool, in harte in. (2x)
Teen die hange van Magalies
met sy fiere Eeufeestop
deftig rys teen bloue hemel,
jy, my Hoërskool, altyd op.
Ken jouself en bloei bestendig-
ook die nakroos sal jou eer
vir die volk deur jou gevorm-
Vaderland en God tot eer! (2x)
Skoolwapen se betekenis

Wildevyboom
Die wildevy is die bekendste boomsoort in Rustenburg. Dit staan vas gewortel in die Suid-Afrikaanse bodem waaruit sy lewe en groeikrag kom. Hy sprei sy wortels dieper en verder en word dus sterker en groter. ‘n boom wat vas staan en ongunstige toestande trotseer . Die boom se kroon sprei groot en wyd uit en vertoon altyd netjies. Dit is ‘n immergroen boom en ʼn simbool van sprankelende lewe. Dit is ʼn tuiste van voëls en beskerm en voed hulle, daarom het die boom ʼn simbool geword van die ideale en groeikrag van Hoërskool Rustenburg.
Die Lemoen
Die lemoen is kenmerkend van die sitrusbedryf in Rustenburg.
Leuse
Nosce te Ipsum beteken ”Ken jouself”
Groen
Is die kleur van die Transvaalse groen veld.
Oranje
Dit is die kenmerkende kleur van die sitrusbedryf.
Wit
Dit is die kleur van reinheid.


E-POS: rhs@hsrtb.co.za
TEL: 014 592 1365/6
Hoek van Kock- en Von Wiellighstraat, Rustenburg, Noord-Wes, 0300